Basaar 2021/03/26

Hierdie week het die spanne hard gewerk om die basaar gereed te kry vir Vrydagmiddag. Die basaar is weer toegelaat om te funksioneer, aangesien dit die vorige jaar alles gesluit was as gevolg van Covid.

Vrydag-oggend het die tente tot staan gekom en die tafels is onder die skadu van die tente ingedra vir al die verskillende items wat te koop aangebied is. Die dag het warm begin. Regtig ‘n mooi dag gelyk. Later het die wolke ons verras, maar die reën het vir eers weggebly. Eintlik ‘n lekker middag gewees vir die basaar.

Binne in die saal is die tafels vir die vleis-verkope ook reggepak. Op die punt van elke tafel is daar plek gemaak vir die kassier. Hierdie word so gedoen om seker te maak dat die verkope vinnig gebeur en dat die mense weer na buite kan beweeg. Nie net om plek te maak vir die volgende klant nie, maar ook ter wille van Covid.

Die Wit olifant tafel is in die konsistorie ingepas. Hier is heelwat nuttige goed verkoop.

Teen 16:50 was daar al heelwat mense wat in rye gewag het om die basaar te ondersteun. Ds. Marius Coetzee het die basaar geopen met gebed en die verkope het begin. Die Donkiekar boere orkes het die basaar opgevrolik met voetkielie nommers wat jou wil laat dans.

Teen 19:00 was alles klaar. Meeste van die tente en al die tafels en stoele is weggepak en alles is skoongemaak. Die groot tente sal eers teen Saterdag opgeslaan word. Dis maar beter om dit in die daglig te doen.

Die kerk wil elke persoon wat gehelp het om hierdie basaar ‘n sukses te maak bedank vir die werk, organisering en ondersteuning. Ons hoop dat jy as gemeentelid ook jou plekkie kon vind by die basaar se beplanning en uitvoering. By so geleentheid leer ons mekaar beter ken. Dit maak die baie werk die moeite werd. As jy nie hierdie keer kon deel wees van die samesyn nie, weet dat daar weer geleenthede sal wees.