SKRIFGETROUE NG-GEMEENTES EN -LIDMATE SE PAD VORENTOE
(NÁ AFLOOP VAN DIE ALGEMENE SINODE 2023)
“Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees”.
Joh 8:36
Uitgangspunt:
Ons Openbare Geloofsbelydenis asook ons leraars se Plegtige Legitimasie Verklaring bevestig ons ware vryheid in Christus. Daarom weier ons om weer slawe te word van dwaalleer en kerklike hiërargie.
1 – Deur geloof in Jesus Christus is ons waarlik vry gemaak
Joh. 8:31-36 “Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom glo: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.” Hulle het Hom geantwoord: “Ons is die nageslag van Abraham en was nog nooit iemand se slawe nie. Hoe kan jy sê: ‘Julle sal vry word’?” Jesus sê toe vir hulle: “Dít verseker Ek julle: Elkeen wat sonde doen, is ‘n slaaf van die sonde. ‘n Slaaf bly nie vir altyd by ‘n huisgesin nie; ‘n seun bly vir altyd. Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees”.
2 – Ons Lidmaatbelofte en Geloofsbelydenis bind ons tot ware vryheid!
Om belydende lidmate van ‘n gemeente van die NG Kerk te word, moes ons ná deeglike kategese in die Skrif en die gereformeerde belydenisskrifte, eers openbare geloofsbelydenis aflê. Dit was ook ‘n gelofte voor God en Sy gemeente. Daarmee het ons bely en beloof dat
- ons glo in Jesus Christus as ons enigste Verlosser en Saligmaker en dat ons Hom sal liefhê en dien solank ons lewe,
- en dat ons die leer van die Bybel soos dit in die artikels van die Christelike geloof (nl. die gereformeerde belydenisskrifte) vervat is en in hierdie kerk geleer word, aanvaar as die ware en volkome leer van die saligheid.
- Ons het ook belowe om in hierdie leer te volhard tot die einde van ons lewe en om alle leringe wat daarvan afwyk te verwerp.
- Slegs op grond van hierdie belydenis en belofte was ons toegelaat as belydende lidmate van daardie gemeente en op grond van die belydenis is ons lidmaatbewyse erken in alle ander NG gemeentes.
- Hierdie belofte het ons meermale herbevestig, bv. by die doop van ons kinders en bevestiging in die besondere ampte as bedienaar van die Woord, ouderling of diaken.
- Die oomblik wanneer ons daardie belofte verbreek, word ons tugwaardig en kom ons lidmaatsvoorregte en selfs lidmaatskap van die NG Kerk in die gedrang.
- Om toegelaat te word tot die bediening, moes die leraars onder ons ook nog verder ’n plegtige legitimasie-verklaring (eed) onderteken waarin ons belowe: “…dat ek hierdie leer getrou sal verkondig en uitleef; dat ek alle dwalinge wat met hierdie leer in stryd is, sal weerlê en alles in my vermoë sal doen om dit uit die kerk te weer;…”
- Ons geloftes verbind ons dus nie om getrou te bly aan alle sinodale besluite of kerkvergaderings nie, maar wel aan die Woord en die gereformeerde belydenisse wat ons by geloofsbelydenis aanvaar het omdat dit met die Woord ooreenstem.
- Die enigste kriterium vir lidmaatskap van die NG Kerk is nie by watter gemeente of ring of sinode jy inskakel, of watter band jy met die Algemene Sinode het nie, en of jy al die sinodes se besluite aanvaar nie, maar wel of jy in leer en lewe nog staan by jou lidmaatbelofte en legitimasie-eed.
Op grond van bogenoemde
- erken ons slegs lidmaatskap en die bevoegdheid van ampsdraers en teologiese dosente wat getrou bly aan bogenoemde beloftes;
- verwerp ons die aanspraak op lidmaatskap en ampsbevoegdheid van almal wat openlik en volhardend bogenoemde beloftes minag ;
- verwerp ons alle kerkvergaderings wat volhardend besluite neem wat onuitvoerbaar is omdat dit in stryd met die Woord van God is, en waarin steeds volhard word ten spyte daarvan dat ons herhaaldelik gravamina en beswaarskifte daarteen ingedien het én oproepe tot bekering én versoeke tot mediasie gerig het;
- adviseer ons lidmate om openlik te getuig teen alle dwalinge wat in stryd is met die Woord en gereformeerde belydenisskrifte, en om seker te maak dat hulle hierdie dwalinge op geen wyse ondersteun of hulle daarmee vereenselwig nie; en
- roep ons alle lidmate op om, in hierdie krisisuur wat nou vir die christelike kerk en in besonder vir die NG Kerk aangebreek het, finaal ’n duidelike geloofskeuse te maak. Elke lidmaat sal, soos ons belydenis sê, die identiteit van die ware en valse kerk moet onderskei en dan besluit waar hulle die Here wil dien.
3 – Ons belydenis van die NGB Artikel 28 bind ons tot ware vryheid – die vryheid wat op ons die verpligting lê om ons as lidmate by die ware kerk te voeg
Ons glo en bely dat
- elke gelowige verplig is om by die ware kerk aan te sluit en as meelewende lidmaat die Here daar te dien;
- niemand uit selftevredenheid homself mag afskei van die ware kerk nie; en
- almal wat hulle van hierdie ware kerk afskei, of nie daarby aansluit nie, handel in stryd met die bevel van God.
4 – Ons belydenis van NGB Artikel 29 bind ons tot ware vryheid – die vryheid wat ons die merktekens van die ware kerk laat dra
Ons glo en bely dat
- elke gelowige sorgvuldig volgens die Woord moet onderskei tussen die ware en die valse kerk aangesien baie hulself vandag ten onregte die naam kerk toe-eien;
- daar wel in elke kerk ook huigelaars is wat met die kerk vermeng is wat nie deel van die ware kerk is nie, alhoewel hulle uiterlik daarin is;
- daar merktekens is waaraan die ware kerk duidelik geken kan word;
- die ware kerk aan die volgende kenmerke geken kan word nl.:
- die suiwer prediking van die evangelie;
- die suiwer bediening van die sakramente; en
- die handhawing van kerklike opsig en tug oor leer en lewe;
- niemand die reg het om hom van die ware kerk af te skei nie.
5 – Ons belydenis van die NGB Artikel 29 leer die merktekens van die ware lidmate van die ware kerk
Ons glo en bely dat
ware lidmate van die ware kerk uitgeken word daaraan dat hulle
- glo in die Here Jesus Christus, en Hom as enigste Verlosser en
Saligmaker aangeneem het; - nou die sonde ontvlug en die geregtigheid najaag;
- die ware God en hul naaste lief het;
- steeds streef om nie links of regs van die Woord af te wyk nie;
- steeds hul sondige natuur met sy werke kruisig;
- ten spyte van groot swakhede deur die Gees daarteen stry;
- altyd weer hul toevlug neem tot die bloed, dood en lyding en
gehoorsaamheid van die Here Jesus Christus; en - deur geloof, uit genade, vergewing van sondes in Christus ontvang het.
6 – Ons belydenis van die NGB Artikel 29 leer die merktekens van die valse kerk.
Ons glo en bely dat die valse kerk
- skryf aan homself en sy besluite meer mag en gesag toe as aan die Woord
van God; - wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie;
- bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel het nie,
maar neem weg en voeg by na eie goeddunke; - vertrou meer op mense as op Christus; en
- vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse
kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf.
Hierdie twee – die ware kerk en die valse kerk – moet uitgeken
en van mekaar onderskei word
7 – Die groot vraag wat geen NG lidmaat wat erns maak met die Woord en gereformeerde belydenisskrifte, vandag kan ontduik nie:
Ag ons ons nog gebonde aan die belydenis wat ons voor God en Sy gemeente bely en beloof het? Wat is ons eie en ons gemeentes se geloofsidentiteit? Vertoon ons kerk nog al die merktekens van ware kerk? Indien nie, wat gaan ons daaraan doen?
8 – Praktiese Implikasies: In die lig van bogenoemde verklaar ons…..
8.1 – Ons kan nie langer stilbly en ook nie stilsit nie, want Christus het ons vrygemaak!
Hand 4:19-20 “Maar Petrus en Johannes het vir hulle gesê: “Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan julle gehoorsaam te wees of aan God. Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.” (vgl. 4:1-20)
In gehoorsaamheid aan God kies ons:
- vryheid bo slawerny;
- getrouheid aan die Woord bo sinodale besluite;
- reformasie bo vrees vir vervolging;
- eenheid in waarheid bo eenheid in ‘n ruim huis van diversiteit;
- om te breek met ontroue kerkvergaderings eerder as om te breek met die gesonde leer (1 Tim 6:3; Titus 2:1).
8.2 – Ons is klaar met die Algemene Sinode (AS), sy taakspanne en strukture
In diepe afhanklikheid van die Here streef ons om getrou aan ons lidmaat-, legitimasie- en ampsbeloftes te bly deur ons in leer en lewe te hou by die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God en die leer in ooreenstemming met die Woord soos uitgedruk in die Formuliere van Eenheid (soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht in 1618 – 1619). Die AS is reeds geruime tyd besig is om in hul optrede en besluite verder en verder hiervan af te wyk en daardeur al meer merktekens van die ware kerk te verloor. Behoudendes poog tevergeefs van lank vóór AS 2015 en daarná, soos nou ook wéér by AS 2023, deur alle beskikbare kerkordelike kanale en versoeke tot onpartydige mediasie, om die AS en sy Taakspanne tot bekering te roep.
Aangesien hulle steeds geen voorneme tot bekering toon nie, en hulle alle versoeke vir onpartydige mediasie of gesprek met behoudende lidmate verwerp, word ons nou deur die liefde van Christus en getrouheid aan Sy Woord gedring om alle direkte en indirekte verbande1 met die Algemene Sinode op te skort2.
Wat is die verbande wat ons opskort?
Alle direkte verbande met die Algemene Sinode3
Alle indirekte verbande met die Algemene Sinode4
Die beginsel daaragter?
KO Artikel 37 handel oor die samestellende5 kerke van die AS en bevestig die Bybelse beginsel dat kerkverband ‘n persoonlike gewetensaak is wat op geen manier afgedwing kan word nie. Die reg tot vrye keuse van kerkverband kan ’n sinode (of gemeente) wat getrou bly aan die Woord en gereformeerde belydenisskrifte, dus nie beroof van sy naam, regte, voorregte of enige bates en eiendom nie. Die godsdienstige reg tot vrye assosiasie word ook bevestig deur Suid-Afrikaanse Handves van Godsdiensregte en –Vryhede wat in ons Kerkorde-boek opgeneem is.
Die Algemene Sinode het ten spyte van herhaalde oproepe tot bekering en ruim geleentheid vir regstellings, steeds hul ore gesluit vir die noodroep van lidmate en mindere vergaderings6. Hulle het gekies om voort te gaan met hul geringskatting van Skrifgesag, hul eksegetiese inlegkunde i.p.v. uitlegkunde7, hul teologiese diversiteit wat ruimte skep vir dwaling en hul hardnekkige pogings om Belhar as ‘n vierde belydenisskrif in te sluit by die AS of individuele sinodes se belydenisgrondslag, terwyl die kerk rééds miljoene rande spandeer het om daaroor te praat en nadat daar uiteindelik tussen AS 2013 en AS 2015 ‘n baie duur en tydsame kerkordelike proses gevolg is waar elke kerkraad en elke lidmaat kon stem, was die Algemene Sinode gedwing om finaal helder en duidelik daarteen te besluit8.
Deur onbepaald ons verband met die Algemene Sinode in sy huidige strukture te handhaaf, is ons ontrou aan die Woord en gereformeerde belydenisse en dus skuldig aan die verbreking van ons lidmaatbelofte, legitimasie eed en ampsbeloftes (as diakens, ouderlinge en bedienaars van die Woord) asook dit wat Kerkorde artikel 23.1-2 van alle NG lidmate verwag.
Die opskorting van alle direkte en indirekte verbande met die AS, sy taakspanne en strukture (ooreenkomstig dié beginsels wat ook by Art 37 geld) met behoud van alle regte, voorregte, besittings, naam, ensovoorts, is ‘n baie dringende en laaste oproep tot bekering.
8.3 – Ons bly NG Kerk
Ons as lidmate, ampsdraers en mindere kerkvergaderinge distansieer ons in woord en daad van die AS en ander kerkvergaderings9 wat nie meer die merktekens van die ware kerk van Christus vertoon nie, wat die gesag van die Woord van God ondermyn, van die Gereformeerde leer afgewyk het, in kerklike wanorde verval het, wêreldgelykvormig geword het, die uniekheid van die Evangelieboodskap nie meer handhaaf nie en die Christelike huwelik gerelativeer het. Verder verwerp ons die besluite van die AS en ander kerkvergaderings wat hieruit voortvloei en ag hierdie besluite nie as bindend nie, omrede die besware daarteen ingedien geensins aangehoor en oorweeg is nie, maar by herhaling geminag is.
Ons kan nie meer deel van ‘n kerkverband wees waarin die Woord van God nie meer suiwer verkondig word, die sakramente ontheilig word en die kerklike tug nie beoefen word nie. Daarom skort ons enige verbintenis op met die AS en ander kerkvergaderings, asook die teologiese opleidingsentra waar bogenoemde aan die orde is en heers.
Ons is dus klaar met die AS asook ander kerkvergaderings wat nog wil voorgee dat hulle die NG Kerk verteenwoordig, maar wat nie meer die merktekens van die ware kerk dra nie, nie meer getrou is aan die belydenisgrondslag van die NG Kerk nie, en ook nie aan die beloftes wat toegang gee tot ons kerklidmaatskap en diens in die besondere ampte nie.
Ons is egter nie klaar met die NG Kerke en kerkverbande wat getrou is aan die merktekens van die ware kerk nie. Soos wat daar vóór die ontstaan van die AS in 1962, volkome selfstandige NG Kerklidmate en –gemeentes was, so behou ons ook nou ná en tydens die opskorting steeds ons identiteit as NG Kerk.
8.4 – Ons onderskei ons in ons naam
Om duidelik onderskei te word van diegene wat hulself ten onregte “NG kerk” noem, sal ons geregistreerde naam “NG Kerk” bly soos dit is, maar in die volksmond sal ons bekend staan as die “Vrygemaakte NG gemeentes”10 .
8.5 – Ons verhoudinge met kerkrade, ringe en sinodes:
Ons verband met kerkrade, ringe en sinodes wat die AS se dwalinge ondersteun, word hiermee opgeskort as laaste oproep tot bekering. Ons behou egter steeds ons verband met die kerkvergaderings wat getrou is aan ons lidmaat-, legitimasie- en ampsbeloftes en wat hul openlik distansieer van die dwalinge van die Algemene Sinode.
Elke lidmaat en elke gemeente se reg tot vrye assosiasie met die Woord en gereformeerde belydenisse as ons hoogste norm, word ook bevestig in die Suid-Afrikaanse Handves van Godsdiensregte en –Vryhede wat in ons Kerkorde-boek opgeneem is.
8.6 – Ons verhoudinge met lidmate, ampsdraers en dosente.
Ons erken slegs die reg tot lidmaatskap van gelowiges en kerkvergaderings wat ten spyte van eie swakheid en sonde, steeds getrou bly aan ons gereformeerde belydenis. Dit is hulle wat ag slaan op vermanings en nie voortgaan om uit selftevredenheid in dwaling en sonde te volhard nie.
8.7 – Die herstrukturering van kerkverband
Ons glo dat kerkverband belangrik is, daarom beywer ons ons steeds vir nuwe geografiese en kategoriale kerkverbande met behoudende gemeentes en kerkvergaderings. Ons reik ook uit na wyer kerkverbande met ander Skrifgetroue gereformeerde kerke binne- en buitelands.
Aangesien die kerk van Christus ook nog wyer strek as die gereformeerde kerke, maar almal nie ewe veel merktekens van die ware kerk dra nie, is ons ook oop vir gesprek en verskillende grade van verhoudinge11 met ander christelike kerkgroepe, maar sonder om enige beginsel van ons gereformeerde geloof daardeur te verloën.
8.8 – Die implementering van die opskorting
Aangesien elke gemeente volledig kerk is (ecclesia completa), respekteer ons elke gemeente se reg om selfstandig op ‘n ordelike wyse te besluit oor die wyse, datum, omvang, ensovoorts van die opskorting asook die finansiële implikasies en praktiese reëlings wat dit mag inhou.
8.9 – Die Koinonia Sinode (KS)
Op 4 Mei 2023 het 56 gemeentes reeds gekonstitueer as Koinonia Sinode wat kategoriaal saamgestel is. Alle behoudende gemeentes van die NG Kerk is welkom om deel te word van hierdie kategoriale sinode. Ons voorsien dat daar ook spoedig in alle streke sinodes tot stand sal kom wat moontlik verkies om geografies saamgestel te wees en dat strukture gevind sal moet word om verder uitdrukking te gee aan kerkeenheid en ons evangeliese identiteit, met die voorbehoud dat gewaak sal word teen hiërargiese strukture waar een vergadering oor ‘n ander vergadering(s) heers. KS is gewillig om gemeentes wat eie sinodes wil vorm, daarin met raad en daad te begelei.
8.10 – ‘n Koinonia Ring
Daar is reeds een ring wat in geheel deel is van Koinonia kerkverband en wat ook as ‘n Koinonia ring gekonstitueer het. Die Ring van Standerton met sy ses gemeentes is erken as die heel eerste Koinonia Ring. Gemeentes wat ook by ‘n Koinonia ring wil inskakel, is welkom om Standerton te skakel vir meer inligting en ondersteuning.
8.11 – Lidmate wat tans in gemeentes is wat nog die dwalinge van die AS ondersteun
Duisende behoudende lidmate voel baie magteloos, ontuis en selfs baie gefrustreerd in vrysinnige gemeentes wat weier om hulle van die AS se dwaling te bekeer. Vir sulke lidmate sal daar ruimte geskep word om, ongeag hul geografiese domicilium, hul lidmaatskap oor te plaas na vrygemaakte gemeentes.
8.12 – Voorsiening vir lidmate vêr buite die gemeentegrense
KSDG onderneem om dringende aandag te gee aan die geestelike bearbeiding en die pastorale versorging van sulke lidmate. Eredienste van vrygemaakte gemeentes sal sovêr moontlik ook digitaal beskikbaar wees.
8.13 – Kerklike opsig en tug
Ons aanvaar slegs die kerklike opsig en tug van kerkvergaderings wie se bevoegdheid deur die vrygemaakte gemeentes erken word. Kerklike opsig en tug as een van die merktekens van die ware kerk soos bely in die NGB, moet weer tot sy reg kom – altyd tot behoud van die sondaar, die heil van die kerk en die eer van God.
8.14 – Huidige en toekomstige kerklike strukture
Ons glo dat ter wille van ’n meer gesonde sinodaal-presbiteriale kerkregeringstelsel en die eer van die Here, die Algemene Sinode in sy huidige strukture moet ontbind en vervang word met ’n federale vergadering12 van onafhanklike volkome selfstandige kerke.
Die eenheid van die ware kerk is volgens die Bybel ‘n baie belangrike saak en daarom vir ons steeds hoë prioriteit. Hierdie eenheid is egter nie gelyk aan die skyn van strukturele eenheid of groot getalle nie. Kerkeenheid volgens die Woord is altyd eenheid in liefde en waarheid. Ware eenheid kan dus nie bestaan waar, ter wille van getalle, so na diversiteit gestreef word dat die waarheid en die leuen onder een dak gehuisves word nie. Hoewel die merktekens van ‘n ware en ‘n valse kerk duidelik is, verander geen kerk oornag van ’n ware na ’n valse kerk nie. Soos ons in die Skrif en die kerkgeskiedenis leer, is dit gewoonlik ‘n geleidelike proses met genoeg tyd om te bekeer en te reformeer. Wanneer die proses egter so vêr gevorder het dat kerkvergaderings nie meer wil luister na opregte vermanings vanuit die Woord nie en dit nie eers meer toets aan die Woord en hulle antwoord kan motiveer vanuit die Woord nie, dan is dit tyd om afskeid te neem – nie afskeid van die ware kerk nie, maar van on-Skriftuurlike strukture en die onregmatige indringers in die kerk sodat jy nie verder deel word van die afvallige proses nie. Vir meer as 8 jaar het behoudendes tevergeefs probeer om die AS in liefde terug te roep na die waarheid van die Woord. Ons getuig dus nou onbevrees dat die AS met al sy Taakspanne en werkgroepe soos die ASM, ATR, ATLAS, AK en die Teologiese Fakulteite, die vernaamste oorsaak is waarom daar tans so ’n groot gebrek aan ware eenheid in die NG Kerk is terwyl die AS en ASM steeds probeer om ‘n skyn van eenheid voor te hou.
Tog geld die afvalligheid nie vir alle NG lidmate, -gemeentes en -kerkvergaderings nie:
In Elia se tyd was daar nog 7,000 gelowiges wat nie die knie voor Baäl gebuig het nie. So het daar ook in die sterwende gemeente van Sardis ‘n paar oorgebly wat getrou was aan die evangelie wat hulle ontvang het en nie hul klere met dwaalleer besoedel het nie. Die geskiedenis leer ons ook hoe die verval van die Rooms Katolieke kerk oor ‘n tydperk ontwikkel het. Daarom glo ons dat daar vandag ook nog baie getroue lidmate is wat nie verblind is deur die Algemene Sinode se proses van afvalligheid nie.
Ons bly dus oop vir gesprek met almal wat bereid is om te praat op grond van die Woord, ons gereformeerde belydenisskrifte, ons lidmaatbelofte, ons legitimasie eed en ons Kerkorde Artikel 1 en 23.1-2.
Ons is bewus daarvan dat daar behoudende gemeentes en sinodes is wat in hul unieke omstandighede tans ander opsies oorweeg om los te kom van die verband met die Algemene Sinode. Namibië oorweeg dit om as sinode ‘n artikel 37 proses te volg en Vrystaat volg ook tans ’n eie proses. Indien enige sinode suksesvol die bande met die AS kan losmaak en vir ons die ruimte bied, sal ons oop wees vir gesprek om moontlik by so ’n onafhanklike sinode in te skakel. Ons glo immers dat gelowiges wat dieselfde geloof en belydenis handhaaf, geroep is om hierdie eenheid konkreet in liefde en waarheid uit te leef..
Ons respekteer die selfstandigheid van elke gemeente as volledig kerk. Hierdie is dus nie voorskriftelik vir enige gemeente nie. Ons respekteer ook elke lidmaat en gemeente se reg om eie besluite te neem en onderneem om sovêr moontlik ons kerkverband met alle Skrifgetroue NG lidmate, gemeentes en kerkvergaderings te bewaar. Ons verkies daarom om in noue kontak met alle Skrifgetroue NG kerke en kerkvergaderings te bly. Ons nooi ook behoudende gemeentes en Ringe om met ons te kontak, selfs al volg hulle tans ander opsies.
8.15 – Teologiese opleiding.
Weens verskeie faktore soos die rol van die staat, die nalatigheid en oënskynlike versuim van die kuratoria om behoorlike toesig te hou, die insypeling van liberale teologie ens. is ons teologiese opleiding sentra gekaap deur voorstanders van ’n vrysinnige teologie. Geen wonder dat die getal studente wat NG leraars wil word ook drasties afgeneem het nie. Dit vorm deel van die proses van totale afvalligheid wat reeds op byna alle terreine die kerk se werk deursuur het. Die behoudende NG Gemeentes staan voor ’n groot uitdaging om so gou moontlik toe te sien dat alternatiewe opleidingsentra gevind word waar ons studente deeglike gereformeerde Skriftuurlike opleiding kan ontvang. Ons is dankbaar om te rapporteer dat daar reeds heelwat navorsing in dié verband gedoen is. Verder voorsien ons die benoeming van ’n nuwe of alternatiewe kuratorium wat vanuit ons belydenisgrondslag en ons unieke NG-identiteit as gereformeerde kerk kan toesig hou oor die toekomstige teologiese opleiding.
9 – Die proses vir die implementering van hierdie konsep plan.:
- Hierdie konsep plan is op 1 November 2023 eenparig aanvaar deur die uitgebreide KSDG. Aangesien sommige van hierdie sake ingrypend van aard is en ons erns wil maak om eenheid en wye deelname te bevorder, word dit eers vir kommentaar uitgestuur aan alle kerkrade van Koinonia Sinode asook Kairos Netwerk se ondersteuners plus ander belangstellende Skrifgetroue gemeentes.
- Aangesien ons benadering is om deurgaans openlik en deursigtig op te tree, word ‘n afskrif van hierdie dokument ook vir kennisname aan die nuutverkose ASM gestuur. Ons bly steeds oop vir sinvolle opbouende kommentaar.
- Alle kommentaar moet ons waar moontlik reeds voor einde Desember bereik. Teen einde Januarie 2024 sal alle kommentaar wat ontvang is, verreken en waar nodig ingewerk word. Sodra die KSDG dit finaal goedgekeur het, kan elke kerkraad self besluit oor die moontlike implementering van hierdie pad.
Voetnotas
1 Kerkverband: dui op kerke wat op grond van hulle gemeenskaplike geloof en belydenis met mekaar in ’n verhouding staan – ringe, sinodes en die Algemene Sinode gee amptelik uitdrukking aan die verhoudinge.
2 Opskort: om voorlopig te onttrek uit alle verhoudinge en samewerking
3 Die argument dat gemeentes en lidmate nie in verband met die AS staan nie is foutief. Elke gemeente is ecclesia completa en kan dus oor eie verband besluit. Wat leer- en beleidsake betref staan die AS wel in ‘n noue verband met mindere vergaderinge, ampsdraers en lidmate.4 Lidmate en gemeentes het ook ‘n indirekte verband met die AS via ons Streeksinodes. Die implikasie is dat ons dus ook ons verband met die Streeksinodes opskort solank hulle nog in verband met die AS staan.
- Daarom kan die Algemene Sinode besluite oor leer en beleid neem wat ook bindend is vir kerkrade en lidmate (Kerkorde 2019 Artikels 43.1.1; 43.1.4).
- Daarom bepaal Reglement 4, punt 11.1 “Indien die Algemene Sinode beleidsbesluite neem, is hy bevoeg om die kerk in geheel aan te spreek, dit wil sê mindere kerkvergaderings, ampsdraers en lidmate.” As daar geen noue verband met mindere vergaderings en lidmate was nie sou bogenoemde nie moontlik wees nie.
5 Samestellende kerke: Dit is die bewoording wat in Kerkorde Artikel 37 gebruik word om te verwys na die selfstandige kerke wat in 1962 saamgekom het om die Algemene Sinode te vorm. Dit word deur die Algemene Taakspan Regte vertolk as die tien sinodes wat tans afgevaardigdes stuur na die Algemene Sinode (vergelyk Kerkorde 2019, p 12, voetnota 20).
6 Meerdere en mindere vergaderings: Die woord MEERDERE beteken eenvoudig net meer in getal en MINDERE beteken eenvoudig net min in getal. Meerdere vergaderings beteken dus dat ten opsigte van getalle meer kerke as in mindere vergaderings byeenkom. Meer en minder dui slegs op getalverskil. ’n Sinode het geen hoër gesag as ’n ring of kerkraad nie. In ’n kerkraadsvergadering kom die ampsdraers van een plaaslike kerk bymekaar. In ’n ring of ’n sinode kan om baie redes nie alle kerkraadslede van al die plaaslike kerke bymekaarkom nie en daarom word verteenwoordigers afgevaardig. ’n Ring en ’n sinode is dus ’n vergadering waar ’n groter aantal kerke byeenkom, meer as die een plaaslike kerk (Dr. P. Rossouw: Kerkvergaderings, p15).
7 Eksegetiese inlegkunde i.p.v. uitlegkunde: Eksegese is om die betekenis van die teks te bepaal. Inlegkunde is wanneer mense se eie vooropgestelde idees in ’n bepaalde teks ingelees word terwyl dit ’n nie die betekenis en bedoeling van die teks is nie. Uitlegkunde is om eksegeties te probeer vasstel wat die ware betekenis van die teks self is.
8 Kerkorde 2015, p 132 en 133, punte 4.9 – 4.11.
9 Ander kerkvergaderings: In die NG kerk is daar volgens kerkorde vier kerkvergaderings naamlik kerkraad, ring, sinode en Algemene Sinode (vergelyk Kerkorde 2019, p 7, Artikel 18). Verder is daar natuurlik ook oor kerkgrense heen ekumeniese vergaderings.
10 Ander name soos “Vrye NG Gemeentes”, of “Skrifgetroue,” of “Behoudende NG Gemeentes”, of “Onafhanklike NG Gemeentes” kan ook oorweeg word. Hieroor sal uitsluitsel gegee word ná die ontvangs van die kommentaar en insette van die deelnemende gemeentes.
11 Die betrokke kerke/christelike kerkgroepe se belydenisgrondslag sal bepalend wees vir die aard van die bilaterale verhoudinge, soos bv.: volle verhoudinge/gedeeltelike verhoudinge/dialoog-verhoudinge/insidentele verhoudinge of bloot samewerkingsverhoudinge
12 Federale vergadering: Dit is ’n vergadering van volkome onafhanklike en selfstandige kerke waar geen afdwingbare bindende besluite geneem kan word nie. Daar word dus nie soos tans by die huidige Algemene Sinode, beleid bepaal en besluite geneem waaraan al die selfstandige kerke hulle moet onderwerp nie.