Ons Gemeente
Ons gemeente, die NG Gemeente Karatara, verskil van die meeste ander gemeentes daarin dat hierdie ‘n gemeente is wat uit twee dele bestaan, nl die gemeenskappe van Karatara en Sedgefield wat 24 km uitmekaar is. Daar is ‘n kerkgebou in Karatara en ‘n kerksaal in Sedgefield wat as aanbiddingsplekke gebruik word. Elke gemeenskap beskik oor ‘n pastorie. Die twee predikante hou beurtelings eredienste in albei gemeenskappe en deel die leraarspligte in beide gemeenskappe. In Karatara en omgewing woon ongeveer 275 belydende lidgmate en 90 dooplidmate. Hierdie syfers vir Sedgefield is onderskeidelik ± 600 en 100.
In 2001 het die kerkraad besluit om ‘n proses van strategiese beplanning van stapel te stuur. Die oogmerk was veral om te bepaal wat ons dink die Here wil hê ons doel, rol en funksie op hierdie plek in hierdie tydsgewrig moet wees. Vir Sedgefield het dit duidelik geword dat omvattende herstrukturering nodig is, terwyl Karatara die konvensionele gemeentefunksionering verkies het. Gevolglik is besluit dat die twee dele pararallel sal opereer onder leiding van ‘n gesamentlike kerkraad (wat algemene sake sal reël) en twee wykskerkrade (vir plaaslike aangeleenthede). Sedgefield het die proses verder gevoer en dit het uitgeloop op die formulering van ‘n visie en die instelling van ‘n nuwe gemeentelike struktuur en werkswyse vir Sedgefield. Op Sondag, 2 November 2003 het die lidmate van die Sedgefield Wyksgemeente hulle na ‘n Nagmaalsdiens op sigbare wyse verbind tot hierdie visie deur ‘n klipstapel te pak. Die klippe is later in ‘n gedenkteken voor die kerksaal vasgemessel om die gemeente aan hul plegtige belofte om uit liefde vir God ‘n verskil te maak, te herinner.
Ons Visie
Die Visie wat na baie gebed en insette deur verskillende mense vir ons hele gemeente na vore gekom het, is:
Die Liefde van God dring ons om ‘n verskil te maak in die
Gemeente, die Omgewing en die Wêreld.
A – God se liefde wat ons dring …
Dit word werklikheid deur die werking van die suiwer Woord van God in veral die Prediking.
B – ‘n Verskil in die GEMEENTE …
Dit gebeur wanneer die lidmate geestelik groei.
C – ‘n Verskil in die OMGEWING en die WêRELD …
Word gemaak wanneer die gemeenskap en die ekologie van Sedgefield deur ons uitreikaksies bevoordeel word en ons deur uitreikaksies wêreldwyd tot seën is.
Ons Logo : “Ons maak ‘n Verskil”
Die Logo het as grondslag die visie van die gemeente en Galasiërs 5:22, wat die vrugte van die Gees beskryf:
- Die drie sirkels simboliseer die gemeente, die omgewing en die wêreld
- Die geel sirkel: die gemeente
- Die blou sirkel: die omgewing
- Die groen sirkel: die wêreld
- Die rooi hart is die universele teken van liefde en simboliseer die liefde wat ons dring
- Uit die hart ontstaan die kruis en staan uit bo al drie die sirkels. Dit simboliseer die vrugte van die Gees wat ons dra wat ons laat uitstaan en ‘n verskil laat maak in ons gemeente, ons omgewing en die hele wêreld
- Die kruis verteenwoordig ook vir God en wys dat Hy die Heerser is oor die hele wêreld
Galasiërs 5:22
Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde,
vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid,
getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.
Ons uitgangspunt
Ons het dit vir ons self uitgemaak dat die Koning van die Kerk hierdie Wyksgemeente met ‘n bepaalde doel in hierdie mooi dorp gevestig het en dat Hy ‘n taak vir ons elkeen met sy eie gawes en vermoëns het. Die Wyksgemeente is nou so gestruktureer dat daar vir elke lidmaat wat deur die liefde van God gedring word, ‘n geskikte ruimte is waarin hy/sy deur diens te lewer, ‘n verskil iewers kan help maak. Ons is dus elkeen hier om te dien eerder as om bedien te word.
Ons Etos
- Al ons aktiwiteite is die resultaat van God se liefde wat ons dring om ‘n verskil te maak.
- As jy lidmaat wil wees of as leier wil dien, dan is dit jou plig om met die hulp van God jou verantwoordelikheid ten alle koste na te kom.
- Almal wat ‘n verantwoordelikheid aanvaar, het die gesag om die verantwoordelikheid uit te voer binne die raamwerk van die Goddelike gesag soos in die Bybel vervat.
- Daar word van elke lidmaat verwag om binne gesondheidsbeperkings aktief aan die aktiwiteite van ten minste een van die diensgroepe in die gemeente deel te neem.
Ons doelwitte
Om die visie se drie hoofdele te laat gebeur is sekere strategieë geformuleer met spesifieke doelwitte vir elkeen, m.a.w. wat is dit waaraan ons ‘n verskil wil maak, die grootte of omvang van die verskil en teen wanneer ons dit wil bereik.
Ons Diensgroepe
Ons het sekere diensgroepe nodig wat ons die beste in staat sal stel om ons doelwitte te bereik soos gestel in ons visie.
Ons kontrole
Daar moet voortdurend gesien kan word tot watter mate ons ons doelstellings bereik. Die Dagbestuur van die Wykskerkraad is vir die nodige kontrolering verantwoordelik.
Daarom
- word van alle leiers verwag om die uitgangspunt en etos te onderskryf.
- sal daar ‘n jaarlikse gemeentekonferensie wees waar terugvoering aan die gemeente gegee word.
- sal elke 6 maande mondelinge terugvoer aan die gemeente gegee word oor die stand van elke diensgroep.
- moet alle diensgroepvergaderings kwartaalliks vergader en notule van besluit op rekord hou.
- alle leiers en lede van werkgroepe moet sover moontlik op rotsiebasis dien. Vergaderings word gebruik vir beplanning en beheer en nie vir uitvoering van take nie en duur nie langer as 2 ure nie.
Ons bestuurstruktuur
Die Wykskerkraad
Doelwitte
- Goedkeuring en koördinering van al die diensgroepe se aksies
- Verkiesing van alle leiers
Samestelling
- Predikant/Leraar
- Ouderling: Arealeier vir Westelike Wyk van die Gemeente
- Diaken: Blokleier vir Wes 1 ]
- Diaken: Blokleier vir Wes 2 ] 17 Dienswerkers*
- Diaken: Blokleier vir Wes 3 ]
- Ouderling: Arealeier vir Oostelike Wyk van die Gemeente
- Diaken: Blokleier vir Oos 1 ]
- Diaken: Blokleier vir Oos 2 ] 18 Dienswerkers*
- Diaken: Blokleier vir Oos 3 ]
- Ouderling: Arealeier vir Suidelike Wyk van die Gemeente
- Diaken: Blokleier vir Wes 1 ]
- Diaken: Blokleier vir Wes 2 ] 15 Dienswerkers*
- Diaken: Blokleier vir Wes 3 ]
- Ouderling: Leier van Diensgroep vir Erediensbediening
- Ouderling: Leier van Diensgroep vir Gebed
- Ouderling: Leier van Diensgroep vir Jeug
- Ouderling: Leier van Diensgroep vir Vrouediens/Liefdesdiens
- Ouderling: Leier van Diensgroep vir Kleingroepe
- Ouderling: Leier van Diensgroep vir Getuienis & Ekumene
- Ouderling: Leier van Diensgroep vir Geboue en Toerusting
- Ouderling: Leier van Diensgroep vir Kommunikasie
- Ouderling: Leier van Finansies
*Dienswerkers is nie-kerkraadslede