N.G. Kerk Karatara (sluit ook Sedgefield in)
Kommunikasie vanaf die kerkraad
Liewe Gemeente,
Die N.G. Kerk was die afgelope paar jaar baie in die nuus asook in die spervuur oor hulle standpunt rondom ‘n huweliksformuluur en die implikasie van huwelike vir persone in selfdegeslagverhoudinge , en by implikasie die gepaardgaande homoseksuele dade in sulke sg. huwelike. Daarom dat ons hierdie kommunikasie aan u as gemeente deurgee om die kerkraad se besluite hieromtrent te gee.
Die kerkraad aanvaar die Bybel as Woord van God. Verder verklaar die kerkraad dat die Woord die Woord die beste verklaar, veral vanuit die perspektief van die Nuwe Testament, en navolgeing van die gereformeerde leer. En by die beoordeling van hierdie saak moet ons in die eerste plek die Woord gehoorsaam. Lidmate is welkom om met my as leraar hieroor te kom gesels.
Die kerkraad het dus na beraadslaging en nadenke oor wat die Woord leer by drie verskillende vergaderings die volgende beginselbesluite geneem.
- Dat omdat, volgens die Bybel, ‘n huwelik net kan bestaan tussen een man en een vrou, en dat homoseksuele dade saam met buite-egdelike heteroseksuele dade in die Bybel afgewys word as buite God se plan vir die mens se lewe (sonde), is ons as kerkraad diep bedroef oor die Algemene sinode van die N.G kerk se besluit om selfdegeslagverbintenisse as ‘n huwelik te wil verklaar met die praktiese besluit om ‘n “huweliksformulier” op te stel, op hierdie wyse noem hulle reg/goed/mooi wat die Bybel verklaar as verkeerd/nadelig/sonde.
- Dat ons gemeente se leraar/s in gehoorsaamheid aan die Bybel, nie toestemming het om “huwelike” te bevestig van persone in selfdegeslagverhoudings nie, of om dit te propageer nie – op grond van die Woord van God.
- Dat ons op grond van hierdie besluit(e) van die Algemene sinode doleer (treur), en as sulks bekend sal staan.
Die implikasies van hierdie drie besluite by drie verskillende kerkraadsvergaderings sal nog verder bespreek en uitgeklaar word. Soos wat dit uitgeklaar word sal dit verder met die gemeente gekommunikeer word in die verskillende kanale wat tans in die gemeente beskikbaar is. Soos ek ook in die tweede paragraaf van hierdie skrywe noem, is enige gemeentelid welkom om met my oor die betekenis en implikasies van die besluite te kom gesels.
Groete in Christus. Ds. Marius X. Coetzee nms. die Kerkraad